n Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg - Decent work and the promotion of access to social protection for workers in the informal economy - an international and regional perspective
Betaamlike werk en die bevordering van toegang tot sosiale beskerming vir informele werkers - 'n internasionale en regionale perspektief
Hierdie bydrae oorweeg die beskerming wat werkers in die informele sektor van die ekonomie tans geniet. Oorweging word gegee aan belangrike konsepte, insluitende, "informele sektor", "informele ekonomie", "decent work", "sosiale sekerheid", ens. Daar word geargumenteer dat sosiale beskerming eerstens afhanklik is van die aanwesigheid en afdwinging van kern arbeidsregtelike beskerming en standaarde. Die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) kan 'n belangrike rol speel in die uitbreiding van internasionale standaarde na die informele sektore van die ekonomie. Aangesien werkers in dié sektore se belange en behoeftes egter eiesoortig is sal so 'n benadering goed deurdink moet wees. Die huidige situasie in Suid Afrika en die SAOG word dan kortliks uitgelig. Dit is duidelik dat informele sektor werkers tans grootliks uitgesluit word van formele sosiale sekerheidskemas. Moontlike strategieë om die beskerming van sulke werkers te verbeter word geïdentifiseer, insluitende die instel van spesiaal ontwerpte sosiale versekeringskemas; die verskaffing van sosiale bystand en die uitbreiding en hervorming van die formele sektor sosiale versekeringskemas. Daar word egter tot die gevolgtrekking gekom dat die lewenstandaard en sosiale posisie van werkers in die informele sektor reeds aansienlik verbeter kan word deur die doelwit van betaamlike werk voorop te stel en daadwerklike beleidsoorweging daaraan te skenk.