
Full text loading...
Gestel 'n maatskappy, Abfall Entsorgung (Edms) Bpk, is die geregistreerde reghebbende van 'n bevoegdheid om in die toekoms gebruik te maak van bestaande ghwarriegate in 'n uitgewerkte gruisgroef vir die storting van verwerkte huisafval. Die maatskappy herwin die afval in die loop van sy bedryf as afvalhanteerder en -verwerker uit die naasgeleëmetropolitaanse gebied uit hoofde van sy winsgewende vullisverwyderingskontrak met daardie stadsraad. Omdat die maatskappy bedag was op die waarde van die bevoegdheid en wou waak teen die risiko dat die gruisgroef van eienaars mag verwissel, is in 1978 ooreengekom met die teenparty om die bevoegdheid in die vorm van 'n diensbaarheid teen die titelakte van die dienende erf te laat registreer. Sodoende is verseker dat ongeag enige toekomstige verandering in die eiendomsreg van die groef die diensbaarheid teen wie ook die momentane eienaar van die groef is, afgedwing sal kan word. Die bevoegdheid is dus behoorlik geregistreer uit hoofde van 'n notariële akte teen die titelakte van die eiendom waarop die gruisgroef bedryf is.
Article metrics loading...