1887

n Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg - Early warning of gross human rights violations : an international law perspective

USD

 

Abstract


Growwe menseregteskendings vind nie oornag plaas nie: waarskuwingstekens van 'n dreigende katastrofe kan lank vóór die uitvoering daarvan bespeur word. Die internasionale gemeenskap bejeën egter vroeë waarskuwingstekens met ongeloof, minimaliseer dit, of ontken dit uitdruklik. Elke volksmoord en misdaad teen die mensdom is uniek, maar daar bestaan ook sterk ooreenkomste. Growwe menseregteskendings wat in die artikel vergelyk word, is die volkslagting van die Jode, die Kambodjaanse volksmoord, volksmoord en misdade teen die mensdom in die destydse Federale Republiek van Joego-Slawië, die Rwandese volksmoord en die volksmoord in Darfur in Soedan.
Die ooreenkomste tussen vroeë waarskuwingstekens van die growwe menseregteskendings dui aan dat 'n patroon gevolg word wat onder drie fases gegroepeer kan word. Die eerste fase is wanneer die staat politieke onstabiliteit ervaar, gewoonlik gepaardgaande met 'n gewapende konflik. 'n Verandering in regering of politieke leierskap vind plaas en geen politieke opposisie word geduld nie. Die uiterste rassistiese ideologie van die oortreders word tydens die tweede fase geformuleer, waartydens lede van 'n spesifieke groep geteiken en geviktimiseer word. Die ideologie bestaan uit die ontwikkeling van 'n hoër doelstelling, en die geteikende groep staan in die pad van die bereiking daarvan. Die ontmensliking en uitwissing van die groep word as "noodsaaklik" beskou ten einde die doelstelling te bereik. Die finale fase is wanneer die hoër doelstelling uitgevoer word deur die pleging van volksmoord of 'n misdaad teen die mensdom. Kriminele dade word geleidelik teen 'n reeds getraumatiseerde en gediskrimineerde groep bekendgestel wat met die eerste oogopslag sporadies blyk te wees, maar wat later geopenbaar word as 'n sistematiese uitwissingsplan.
Dit is dus van kardinale belang dat die internasionale gemeenskap ag slaan op vroeë waarskuwingstekens ten einde te voldoen aan die erga omnes-verpligting om growwe menseregteskendings te voorkom én te vervolg. Die nienakoming van -verpligtinge kan tot die sivielregtelike aanspreeklikheid van die staat of state in versuim lei. Gevolglik is dit raadsaam dat state voorkomingsmaatreëls tydens elk van die drie fases implementeer, spesifiek tydens die polities onstabiele en ideologiese fases ten einde die operasionele fase te vermy.

Loading

Article metrics loading...

/content/ju_tsar/2011/4/EJC55424
2011-01-01
2016-12-08
This is a required field
Please enter a valid email address
Approval was a Success
Invalid data
An Error Occurred
Approval was partially successful, following selected items could not be processed due to error