1887

n Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg - Third generation sectional titles : artikel

USD

 

Abstract


Sedert die inwerkingstelling van die Wet op Deeltitels van 1986 is die departement van grondsake (tans die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming) toenemend met 'n oorvloed navrae,onoplosbare probleme en klagtes oor die bestuur van deeltitelskemas en die praktiese toepassing van die Wet op Deeltitels oorval. In 2004 is konsultante aangestel om die bestuursaspekte van die Wet op Deeltitels van die registrasie- en landmeetkundige aspekte in die wet te skei en om met 'n nuwe geskilbeslegtingsmeganisme vorendag te kom om voortslepende hofprosesse en die ondoeltreffende arbitrasie-meganisme te vervang. Die resultaat hiervan was die aanvaarding van derde-geslagdeeltitelwetgewing vir Suid-Afrika in die vorm van die Wet op die Bestuur van Deeltitelskemas en die Wet op die Voorsiening van 'n Ombudsdiens vir Gemeenskapskemas in 2011 onder die beheer van die departement van menslike nedersettings.
Die skeiding van die bestuurs- en registrasiebepalings van die Wet op Deeltitels is bewerkstellig deur 'n Bylae tot die Wet op die Bestuur van Deeltitelskemas. In hierdie Bylae is die suiwer bestuursbepalingsin die Wet op Deeltitels herroep en na die Wet op die Bestuur van Deeltitelskemas oorgeplaas. Verder is die bestuursbepalings in artikels wat sowel bestuurs- as registrasie aangeleenthede reël, uit die Wetop Deeltitels verwyder en meestal onder artikel 5 van die Wet op die Bestuur van Deeltitelskemas saamgevat onder die titel Bykomstige Bevoegdhede van Regspersone, terwyl die registrasiegedeeltesvan die artikels in die Wet op Deeltitels gelaat is. Die bestuursaspekte in hierdie gemengde bepalings handel oor aangeleenthede wat eenparige of spesiale besluite van die algemene vergadering verg en dusduidelik bestuursaangeleenthede is. Ten slotte is die Wet op Deeltitels voorsien van kruisverwysings na die Wet op die Bestuur van Deeltitelskemas en die Wet op die Voorsiening van 'n Ombudsdiens virGemeenskapskemas.
Wat die Wet op die Bestuur van Deeltitelskemas betref, is die taal en logiese uiteensetting van die bestuursbepalings vereenvoudig en verbeter met die oogmerk om 'n bruikbare bestuurshandleiding vir die algemene publiek te voorsien. Die ou bestuursbepalings is in verskeie gevalle vernuwe om die bestuur van deeltitelskemas meer doeltreffend en gebruikersvriendelik te maak. Die belangrikste vernuwings is die bepaling dat die regspersoon die ombudsdiens vir regshulp kan nader indien dit nie moontlik is om 'n eenparige te verkry nie; die vereiste dat die fonds vir administratiewe uitgawes van die regspersoon redelikerwys voldoende moet wees om in jaarlikse uitgawes te voorsien; die vereiste dat 'n redelikerwys voldoende reserwe fonds in stand gehou moet word om in toekomstige uitgawes te voorsien; die vereiste dat 'n spesiale besluit voortaan vereis word voordat die regspersoon eenhede mag koop/verkoop of huur/verhuur, of geld mag leen vir die uitvoering van sy werksaamhede of die uitoefening van sy bevoegdhede, of 'n gedeelte van die gemeenskaplike eiendom aan 'n eienaar of okkupeerder mag verhuur deur middel van 'n korttermynhuurkontrak.
Verdere vernuwings is dat die regspersoon die bevoegdheid het om die terugbetaling van leningste verseker deur middel van 'n notariële verband in plaas van deur middel van 'n verhandelbare stuk of die verhipotekering van onbetaalde bydraes; dat kennisgewings van 'n algemene vergadering waarop eenparige of spesiale besluite (maar nie gewone meerderheidsbesluite nie) geneem moet word deur middel van 'n faks of e-pos gestuur mag word; dat een persoon nie meer as twee persone op 'n algemene vergadering as gevolmagtigde mag verteenwoordig nie; dat oorspronklike wysigings van die voorgeskrewe bestuurs- en gedragsreëls deur die ombudsdiens goedgekeur moet word. Ten slotte is die aanstelling, pligte en werksaamhede van 'n administrateur vir die skema omtrent heeltemal herskryf.
Die doel met hierdie bydrae is om presies aan te dui in hoeverre die Bylae tot die Wet op die Bestuur van Deeltitelskemas die huidige Wet op Deeltitels gewysig het. Die innoverende wysigings van die bepalings van die Wet op Deeltitels soos vervat in die Wet op die Bestuur van Deeltitelskemas word dan krities beoordeel. Ten slotte word aangedui watter ingrypende rol die nuwe ombudsdiens in die bestuur van deeltitelskemas sal speel. Bogenoemde veranderings is myns insiens voldoende om hierdie nuutste wetgewing, as navolger van die eerste Wet op Deeltitels van 1971 en die tweede Wet op Deeltitels van 1986, as derde-geslag wetgewing te tipeer.

Loading

Article metrics loading...

/content/ju_tsar/2012/4/EJC127053
2012-01-01
2016-12-08
This is a required field
Please enter a valid email address
Approval was a Success
Invalid data
An Error Occurred
Approval was partially successful, following selected items could not be processed due to error