So op my omswerwinge met toere na die Wildtuin, het ek nogal van tyd tot tyd met ware karakters te make. Dit is gewoonlik ouer mense van 'n gemeente of uit 'n ouetehuis. Wel, een keer het Oom Ulrich van die plaaslike NG Kerk hom en sy vroutjie by ons groep Gereformeerdes aangesluit. Nou, Oom Ulrich is 'n mens wat altyd die snaakse in situasies raaksien. Grappies het hy onuitputlik opgedis en die rit Wildtuin toe en terug was nie 'n uitsondering nie. Kort-kort het daar 'n geskater opgeklink van hulle wat in sy omgewing sit. Ek was so jammer dat ek ewe belangrik voor in die bus moes sit, want dit het darem al te lekker geklink daar in die middelrye!